Latest SportSport

Poorte skeer en kleur hul hare vir kanker

Minstens 12 lede van eerstespan wys hulle gee om.

Roodepoort Rugbyklub het op Saterdag 1 Maart met Clearwater Mall as stadion met ‘n ander opponent in die vorm van ‘n blikkie haarkleur en ‘n haarknipper te doen gekry.

Dit nadat minstens 12 lede van die eersterugbyspan asook die spanbestuurder soos die res van die land besluit het om óf hul hare te kleur, óf dit af te skeer vir die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) se fondsinsamelingsveldtog. Daar is landswyd orals by winkelsentrums ‘n Shave-a-thon gehou.

Die spanlede wat hieraan deelgeneem het, is die flank Gerhard Scholtz, vleuel Leander Rademeyer, spanbestuurder Steve Prinsloo, flank Juan Shaw, losskakel Hennie Oosthuizen, heelagter André Botha, senter Jesse Geyer, vleuel Lesego Malau, stut Jaco Vermeulen en die slotte Nicky Cronje, Ronnie Goodman en Gareth Hemmingway.

Omtrent die helfte het hul hare gekleur terwyl die ander helfte besluit het om hul hare te laat afskeer.

Volgens Steve Prinsloo, eersterugbyspanbestuurder, is minstens R1 300 so geskenk.

“Dit was lekker vir ons om te kon teruggee vir die gemeenskap en ‘n bydrae tot die saak te kon lewer.

“Al was die minimum bedrag R60 het ons besluit om R100 elk te gee.”

Die klub se amptelike rugbyseisoen skop op Saterdag 8 Maart af.

Die eerstespan pak dan die Bloemfontein Crusaders om die Gemeenskapsbeker terwyl die res van die klub se Assupol-reeksveldtog teen Kempton Wolwe begin.

Steve het bygevoeg “Ons span is voorbereid vir nog ‘n taai kragmeting op die veld en sien uit om die Crusaders in Roodepoort te verwelkom. Ons span sal hul beste gee tydens oefening hierdie week al lyk die weer nie te goed nie.”

Poorte het verlede jaar ook met die Crusaders swaarde gekruis, maar toe in Bloemfontein en die wedstryd gemaklik met 35-14 gewen. Dit is ook teen die einste Crusaders dat Poorte se kaptein, Gareth Hemmingway sy been ernstig beseer het. Hy was vir minstens ‘n jaar jaar lank op die kantlyn maar het sy terugkeer teen die Varsity-beker kampioen aan die begin van die jaar gemaak en goed gelyk.

Poorte-flank, Juan Shaw.
Poorte-flank, Juan Shaw.

Related Articles

Back to top button