Roodekrans — Laerskool Roodekrans het nou nie soentjies op Valentynsdag uitgedeel nie maar het liefde gewys deur geld in te samel.
Op Vrydag 14 Februarie het die liefde onder kinders en personeel gevloei toe Laerskool Roodekrans ‘n Shave-a-Thon gehou het. Die doel was om geld vir die Kankervereeniging van Suid-Afrika (Kansa) in te samel.
Die skool het bevestig dat minstens R25 000 ingesamel is, wat vir kankernavorsing gebruik sal word.
Volgens Melinda Kruger van die skool, “Het leerlinge nie net hul hare afgeskeer nie, maar ook hul hare met verskillende kleure gesproei.
“Die hoof, Deon Rousseau het ook nie op hom laat wag nie en het sy hare ietwat laf laat kleur.”
Melinda voeg by, “Almal in die gemeenskap word of direk of indirek deur kanker geraak en vandag het Roodies op ons manier gewys dat ons omgee en ons liefde in dade omgesit”.
Die skool bedank graag ‘n vrou met die naam van Mariëtte en haar span vir al die beplanning en moeite.
Wikkelvoetjies Kleuterskool – ‘n Dagsorgsentrum vir baba’s van drie maande tot kleuters van vyf jaar om die draai van Roodies – was ook by die dag se verrigtinge betrokke.






