Helpmekaar en Prestige College bo in Top 15 Atletiekskouspel
Roodepoort-skole kou harde bene.
Groot kokkedore in atletiek soos Kempton Park, Monnas, Waterkloof en Hugenote se oorheersing in die Top 10 Atletiekbyeenkoms (nou Top 15) is vir die eerste keer in ‘n lang tyd beëindig en is hulle onttroon.
Op Woensdag 12 Februarie het bykans 60 skole van regoor Gauteng in twee afdelings (Groot Skole en Medium Skole) in die UJ Stadion kragte gemeet.
Dit was die skool van Johannesburg, Helpmekaar Kollege wat na 178 items met 15 334 Absa-tabelpunte as die wenners vir Groot Skole aangewys is. Hoërskool Monument (Monnas), die skool van die Wes-Rand wat die beste presteer het, was tweede met 14 904 punte, en Menlopark van Pretoria derde met 14 579 punte.
Die gasheerskool van die gesogte sportbyeenkoms vir die afgelope 26 jaar, Hoërskool Noordheuwel van Krugersdorp, was agste met 13 639 punte. Kempton Park, die sewemalige wenner van die skouspel was vierde met 14 236 punte.
Die enigste skool van Roodepoort in hierdie taai afdeling was Hoërskool Florida (Florries) wat 20ste geïndig en met 12 685 punte gespog het. (Die volledige tabel is heel onder.)
Atlete van Florries wat die podium gehaal het:
Jessica Boshoff met brons in die gewigstoot-item vir dogters o.16 (12,08m); Franklin Wagner met brons in
die 100m vir seuns o.16 (11,26 sek); Justin Bhana met brons in die 100 meter vir seuns o.19 (10,80 sek); Elizabith Loots met silwer in die diskus- (35,50m) en goud in die gewigstoot-item (11,56m) vir dogters o.19; DP van den Berg met silwer in die hoogspring-item vir seuns o.16 (1,85m); Davan du Plessis met goud in die 200m vir seuns o.14 (25,06sek); Stefani van Niekerk met brons in die verspring-item vir dogters o.19 (5,13m).
In die afdeling vir Medium Skole het Prestige College van Hammanskraal met 14 227 Absa-tabelpunte koning gekraai. Tweede was Potchefstroom Gimnasium met 13 964 punte gevolg deur Ben Vorster van Tzaneen met 13 000 punte.
Die twee Roodepoort-skole in die afdeling was Hoërskool Bastion (Witpoortjie) en Hoërskool Roodepoort (Roodies) wat uiteindelik onderskeidelik met die 15de (10 714 punte) en 16de plek (10 687 punte) moes tevrede wees.
Vir Bastion het André Opperman silwer in die 110m hekkies vir seuns o.17 (16,94 sek); Jody Swart (1,60m) goud en Ethan Martins (1,55m) silwer in die hoogspring-item vir dogters o.15; Ciska van As silwer in die verspring-item vir dogters o.19; Gavin van Deventer silwer in die hoogspring-item vir seuns o.16 (1.75m); Monique du Toit silwer in die verspring-item vir dogters o.14 (4,09m); Ethan Martins brons in die verspring-item vir seuns o.15 (5,33m); André
Opperman brons in die hoogspring-item vir seuns o.17 (1.65m) behaal.
Roodie-uitblinkers sluit in Veldin Coulter met silwer in die verspring-item vir seuns o.16 (5,75m); Ezna Esterhuizen met goud in die 100m (13,47 sek) en silwer in die 100m hekkies-item (15,89 sek) vir dogters o.16; Loulene Sterley met brons in die spiesgooi-item vir dogters o.14 (25,74m) en Jeandré Parsons met brons in die gewigstoot-item vir seuns o.19 (13,33m).
Paul Botha van Randburg (o.16) het die oë laat rek met sy nuwe provinsiale rekord in die spiesgooi vir seuns o.17 met ‘n afstand van 69,13 meter.
Groot Skole:
1 Helpmekaar Kollege
2 Monument
3 Menlopark
4 Kempton Park (14 236)
5 Vereeniging Gimnasium (14 079)
6 Eldoraigne (13 821)
7 Montana (13 660)
8 Noordheuwel
9 Rustenburg (13 634)
10 Zwartkop (13 540)
11 Dr EG Jansen (13 533)
12 Nelspruit (13 301)
13 HTS Witbank (13 246)
14 Potchefstroom Volkskool (13 231)
15 Overkruin (13 218)
16 Pietersburg (13 055)
17 Transvalia (12 804)
18 Lichtenburg (12 693)
19 Marais Viljoen (12 688)
20 Florida
21 Hugenote (12 410)
22 Jeugland (12 184)
23 Wonderboom (11 513)
24 Benoni High (11 411)
Medium Skole:
1 Prestige College
2 Potchefstroom Gimnasium
3 Ben Vorster
4 Randburg (12 785)
5 Bergsig Akademie (12 508)
6 Piet Potgieter (12 476)
7 Linden (12 379)
8 Brits (12 182)
9 Driehoek (12 154)
10 Hartbeespoort (12 147)
11 Riebeeckrand (12 049)
12 Overvaal (11 912)
13 Jan Viljoen (11 567)
14 Frikkie Meyer (11 071)
15 Bastion
16 Roodepoort
17 Curro Bakenveld (10 480)
18 Warmbad Hoërskool (1 538)
Beste prestasies:
Beste Junior Veld: Jonathan de Lacey, seuns o.14 diskus 1 450 Vereeniging Gimnasium
Beste Junior Baan: Nicola de Bruyn, dogters o.15 100m 1 206 Eldoraigne
Beste Senior Veld: Paul Botha, seuns o.16 spiesgooi 1 169 Rustenburg
Beste Senior Baan: Taylon Bieldt, dogters o.16 100m hekkies 1 268 Montana
Hoogste Tabelpunt: Jonathan de Lacey, seuns o.14 diskus 1 450 Vereeniging Gimnasium
Victor Ludorum: Jonathan de Lacey 2 606 Absa-punte Vereeniging Gimnasium
Victrix Ludorum: Taylon Bieldt Totaal 2 346 Absa-punte Montana



