Latest SportSport

Krieket eerste op lys van nuwe sportsoorte in Davidsonville

Kinders moet besef daar is ander sportsoorte as net sokker.

Krieket kan dalk, na sokker, die volgende groot sport in Davidsonville word.

Dit nadat die Gautengse Krieketraad aangedui het dat hulle graag krieket deur middel van KFC-minikrieket aan die gemeenskap wil bekendstel. Roodepoort Primêr is reeds geïdentifiseer as die skool wat die Raad glo gaan nader.

Dit volg na die amptelike opedag van die Roodepoort Sportontwikkelingstigting (Roodepoort Sports Development Foundation) op 1 Februarie.

Daar het ‘n teenwoordiger van die Gauteng Krieketraad, Buhle Vaphi gesê, “Ons taak hier is om krieket te bevorder. Sport is beslis die oplossing om kinders van die strate af te hou en nie by kattekwaad betrokke te raak nie.

“Ons weet sokker is gewild onder die gemeenskap maar ons wil graag ons hande uitsteek na dié wat wil krieket speel. Kinders en ouers moet besef dat daar ander sportsoorte as net sokker is. Wie weet, miskien is jou kind die volgende AB de Villiers, Hashim Amla, JP Duminy of Makhaya Ntini.”

Alhoewel daar geen krieketfasiliteite vir kinders in Davidsonville is nie, meen Buhle dit is glad nie ‘n probleem nie.

“Met KFC-minikrieket het jy nie ‘n groot veld nodig nie; enigiets van 10×5 meter sal ideaal wees en dis hoekom ons die skole teiken. Wedstryde word binne die skool se gronde gespeel en daar is oorgenoeg plek.”

Gevra wat die eerste stap is om krieket in die gemeenskap aan die gang te kry, sê Buhle, “Die eerste stap is om kinders bewus te maak van die sport. Indien hulle dan belangstel, sal ons die nodige reëlings by die skool tref en onmiddellik met wedstryde begin.”

Volgens Buhle is KFC-minikrieket baie gewild in die res van Suid-Afrika.

‘n Geraamde 1 000 skole is deel van die KFC-minikrieketprogram in die land. Dit is nasionaal, baie effektief en het al groot sukses behaal. Die program het oor die 30 jaar terug begin, met KFC as die borg die afgelope vier jaar.

• Navrae: Buhle by 011 340 1574 of e-pos haar by buhlev@cricket.co.za.

Related Articles

Back to top button