Laerskool Roodekrans kan met trots breëbors rondloop nadat hulle atlete met die meeste medaljes (55) weggestap het tydens die Interlaer Atletiekbyeenkoms vir Kluster A-skole in die Ruimsig Atletiekstadion.
Op Dinsdag 4 Februarie het agt laerskole naamlik Roodekrans (Roodies), Helderkruin (Kruiners), Dr Havinga (Havies), De La Rey (Dellies), Horison (Hories), Maragon, Weltevreden Park (Welties) en Florida (Florries) op die atletiekveld kragte gemeet.
Roodies het na 132 items met die meeste medaljes van 55 gespog. Vyftien daarvan was goud, 22 silwer- en 18 bronsmedaljes. Kort op hul hakke was die eerste van twee Engels-medium skole, naamlik Welties met 53 medaljes (17 goud, 21 silwer en 15 brons).
Laerskool Florida wat 40 medaljes in totaal kon inpalm, het met die meeste gouemedaljes van 22 gespog en sou dit die Olimpiese Spele gewees het, was Florries vir seker eerste. Hulle het ook sewe silwer- en 11 bronsmedaljes verower.
Die gasheer van die byeenkoms, Kruiners, het met 34 (12 goud, 10 silwer en 12 brons) die vierde meeste medaljes ingepalm gevolg deur Hories in die vyfde plek met 31 medaljes (nege goud, 11 silwer en 11 bronsmedaljes).
Slegs een medalje het die oorblywende Engels-medium skool Maragon en die skool van Witpoortjie, Dr Havinga geskei. Havies was sesde op die lys van medaljes met 26 (agt goud, sewe silwer en 11 brons) en Maragon sewende met 25 medaljes (ses goud, nege silwer en 10 brons).
Dit het maar swaar gegaan met De La Rey wat slegs twee medaljes kon inpalm – albei brons.
Die volgende atlete het besonder goed vertoon:
• Florries se Elricia Benson wat drie gouemedaljes in die ouderdomsgroep vir dogters o.13 behaal het in die verspring (4,26m), 200 meter (29,19 sek) en 100 meter (14,19 sek)
• Florries se Corné Pennels wat twee gouemedaljes in die ouderdomsgroep vir seuns o.13 behaal het in diskus (37,54m) en gewigstoot (10,61m)
• Florrie se Marli Theart wat twee gouemedaljes in die ouderdomsgroep vir dogters o.11 behaal het in verspring (3,89m) en hoogspring (1,23m)
• Florries se Zoe Stoffels wat twee gouemedaljes in die ouderdomsgroep vir dogters o.10 behaal het in die 80m (11,94 sek) en 100m (15,40 sek)
• Florries se Heike de Klerk wat twee gouemedaljes in die ouderdomsgroep vir dogters o.7 behaal het in die 80m (13,72 sek) en 60m (10,36 sek)
• Welties se Success Nwachukwu wat twee gouemedaljes in die ouderdomsgroep vir seuns o.6 behaal het in die 80m (13,55 sek) en 60m (10,39 sek)
• Welties se Gudani Radzilani wat twee gouemedaljes in die ouderdomsgroep vir seuns o.13 behaal het in die 200m (25,86 sek) en 100m (13,28 sek)
• Welties se David Nnodu wat twee gouemedaljes in die ouderdomsgroep vir seuns o.7 behaal het in die 80m (13,20 sek) en 60m (9,84 sek)
• Welties se Daniel Nwachukwu wat twee gouemedaljes in die ouderdomsgroep vir seuns o.9 behaal het in die 80m (12,48 sek) en 60m (9,42 sek)
• Welties se Gugu Ndaba wat twee gouemedaljes in die ouderdomsgroep vir seuns o.13 behaal het in die 200m hekkies (30,63 sek) en 80m hekkies (12,75 sek)
• Roodies se Barry Diedericks wat twee gouemedaljes in die ouderdomsgroep vir seuns o.13 behaal het in die 1 500m (4 min 45,75 sek) en 800m (2 min 22,40 sek)
• Roodies se Dané Roets wat drie gouemedaljes in die ouderdomsgroep vir dogters o.12 behaal het in die diskus (23,72m) en gewigstoot (9,35m) en spiesgooi (20,91m)
• Roodies se Albert Laubser wat twee gouemedaljes in die ouderdomsgroep vir seuns o.12 behaal het in die gewigstoot (8,62m) en diskus (24,19m)
• Roodies se Ashley Shawe wat drie gouemedaljes in die ouderdomsgroep vir dogters o.12 behaal het in die 1 200m (4 min 28,73 sek) en 150m (21,97 sek) en 100m (14,56 sek)
• Kruiners se Diana van Zyl wat drie gouemedaljes in die ouderdomsgroep vir dogters o.12 behaal het in die verspring (4,37m), 75m hekkies (13,10 sek) en 150m hekkies (25,70 sek)
• Kruiners se Lumze Potgieter wat twee gouemedaljes in die ouderdomsgroep vir dogters o.8 behaal het in die 60m (9,95 sek) en 80m (13,46 sek)
• Kruiners se Heinrich Verheem wat twee gouemedaljes in die ouderdomsgroep vir seuns o.11 behaal het in die 100m (14,16) en 80m (11,53 sek)










