Anja Louw (27) ‘n kandidaatprokureur van Allen’s Nek wat in Florida Park haar nering beoefen, hanteer reeds ‘n geruime tyd sake in die hof om reg en geregtigheid te laat geskiet – maar moet haar nie onderskat as jy haar dalk op straat te na wil kom nie.
Anja was op 28 Januarie van die gesinshof in Albertina Sisuluweg in Johannesburg op pad terug Roodepoort toe, toe ‘n krimineel haar teiken.
Anja vertel:
“Ek en my vriendin was ‘n entjie verby die Oosterse Plaza in verkeer wat teen ‘n slakkepas aangesleep het. My venster was oop en my selfoon tussen my bene vasgeknyp. Ek weier om in vrees te leef daarom is my venster altyd oop,” vertel Anja.
“Ons het so stadig beweeg dat ons byna stilgestaan het toe ek hierdie donker skadu deur die venster sien duik, sy hande tussen my bene indruk en my selfoon gryp.
“Geskok het ek in my spieëltjie gekyk en gesien hoe die man met ‘n wit baadjie en swart broek tussen die straatsmouse verdwyn. Net daar het ek my stert op ‘n krul getrek en ‘n U-draai gemaak,” lag sy as sy vertel hoe omtrent al die verkeer tot stilstand moes kom.
“Ek het my arme verskrikte vriendin net daar in die motor gelos wat in die middel van die pad gestaan het. Alhoewel ek nog my netjiese snyerspakkie vir die hof aangehad het, het ek my skoene uitgeskop en die dief agterna gesit.
“By ‘n kaffee het ek hom gevang. Hy het intussen van sy wit baadjie ontslae geraak en nou ‘n rooi hemp aangehad maar ek het hom herken. Ek het sy hemp met my linkerhand vasgehou en hom met my regterhand begin slaan terwyl ek hom herhaaldelik gevra het waar my foon is,” vertel sy verder.
“Almal het geskok na die petalje gestaan en kyk maar niks gedoen nie. Ek het hom toe met my regterhand begin deursoek en my foon in sy agtersak gekry wat hy toe bevrees aan my oorhandig het. Hy het vir my gesê ek moet net gaan.
“Toe vererg ek my eers en het uit woede hom met nog ‘n paar houe bygedam voor ek hom laat gaan het.
“Ek stel voor dat mense roekelooos en nie versigtig moet wees nie; om liewer op te staan vir wat reg is en afhangende van die situasie te baklei vir wat joune is. Ek is elke dag in die hof en sien gereeld hoe mense te bang is om te sê of te doen wat reg is. Die houding deesdae is om dit net te los. Dis snert! Hierdie is my land ook,” sluit sy bitsig af.
Alhoewel die Record Anja se dapperheid bewonder, word veral vrouelesers aangeraai om nie self potensieel gevaarlike misdadigers te konfronteer nie.



