Editor's choiceLocal newsNews

Elephant praat hart uit

Kuierplek stel hulle kant van die saak.

Die bekende maar omstrede kuierplek, Elephant and Friends op Ouklipweg het op 29 Januarie met die Record ontmoet om hulle kant van die saak te stel na ‘n reeks onsmaaklike insidente die afgelope tyd.

Die Record het met eienaar Juan Venter gepraat.

Die eerste saak wat Juan in konteks wou sit is die kroeg en restaurant se kommentaar in ‘n berig wat onlangs in die Record verskyn het rakende die ernstige aanranding van Arno van Staden en Ruan Snyman deur lede van die Mac’s motorfietsklub.

In die berig het Venter se vrou na die motorfietsryers as “aangename ouens” verwys maar daar was ‘n misverstand aangesien sy gedog het sy lewer kommentaar op ‘n baie minder ernstige insident wat gou ontlont is en ‘n ander motorfietsklub se ondersteuners behels het.

“Die motorfietsklub kom al jare na ons toe en het nog nooit moeilikheid gemaak nie. Dit was nie die Mac’s waarna sy verwys het nie. Ons wil dus van die geleentheid gebruik maak om dit duidelik te maak dat ons as besigheidsmense enige geweld hier afkeur en sal voorkom,” sê Venter wat dan ook verduidelik dat die negatiewe publisiteit hulle inkomste benadeel het en dit finansieel nie sou sin maak om sulke gedrag toe te laat nie.

“Ons sal enige persoon of groep persone wat bekend is vir geweld die perseel belet,” voeg hy by.

Dit blyk ook dat verskeie ander kroeë en kuierplekke blykbaar nie meer die Mac’s klub verwelkom nie.

Op die vraag hoekom Elephant and Friends nie uitsmyters gebruik nie, verduidelik Venter as volg.

“Ongelukkig is daar ‘n element binne die uitsmytersgemeenskap wat self by dwelmhandel betrokke is. Verder is uitsmyters geneig om geweld met geweld te beantwoord. Ons lei ons bestuurders liewer op om ‘n situasie te neutraliseer sonder geweld en daar mag geen hou terug geslaan word nie.”

Venter wat self twee jaar betrokke was by die rehabilitasie van dwelmverslaafdes sê hy is sterk gekant daarteen en Elephant and Friends het met ‘n paar vernuftige maniere vorendag gekom om dit by die kuierplek te voorkom. Die Record wil egter nie die aap uit die mou laat en die sukses hiervan benadeel nie.

Verder het die restaurant omvattende kringtelevisiekameras en het hulle ook in Desember ‘n ouderdomsbeperking 21 ingebring. Venter sê ook dat hy en sy vrou die heeltyd by die besigheid probeer wees om die situasie te monitor.

“Ons wil graag die beste, lekkerste kuierplek aan die Wes-Rand wees, veral vir ordentlike jongmense, en sal aanhou om daarna te streef om dit veilig en aangenaam vir ons klante te hou en ongure karakters die deur te wys.”

Vir reeds twee maande was daar geen erenstige insidente volgens Venter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button