School sportSport

Florries het die g-e-e-s

Florrie-atlete berei hulself op en van die baan af vir die atletiekseisoen voor.

Hoërskool Florida se teenstanders gaan hierdie jaar met meer as net die atlete op die atletiekveld en -baan te doen kry.

En ek praat nie van die luidsprekers nie, eerder die honderde rasende Florries wat uit volle bors gaan sing. Veral Florries se gees was opvallend en iets om oor huis toe te skryf tydens die skool se huissportbyeenkoms op Dinsdag 21 Januarie.

Die huissport het ook nie gegaan oor wie wen nie maar meer oor spanbou as oor kompetisie, want die topatlete weet die gouemedaljes moet nog gaan haal word by die meer as 10 atletiekbyeenkomste wat voorlê.

Dit is daar waar die kompetisie wag. Die gees was so lekker onder die kinders dat die goeie atlete soms selfs ‘n mede-Florrie verby die wenpaal gehelp het. Dis mos waaroor dit gaan.

Op ‘n ernstiger noot het die normale uitblinkers soos Justin Bhana, Elzabith Loots, Kyle van Huyssteen, Stefani van Niekerk en Ashley Lindewaal gemaklik vir die Florrie-atletiekspan gekwalifiseer maar dit was veral ‘n paar nuwe gesigte wat die Record se aandag getrek het.

Hulle is onder andere die 100 meter-atleet, Franklin Wagner en die hoogspring-guru, DP van den Berg. Franklin het die 100 meter-item vir seuns o.16 gemaklik gewen met ‘n vinnige tyd van 11,30 sekondes.

Hy kan in elk geval nog vinniger en daar sal wel van hom verwag word om sy ore goed plat te trek en ‘n medalje vir Florries in te palm by die atletiekbyeenkomste wat voorlê.

DP het die hoogspring-item vir seuns o.16 gedomineer met ‘n spogsprong van 1,75 meter en ook die skool se rekord verbeter. Daar is altesaam 22 nuwe rekords tydens die huissport verbeter.

Die wenspan is die Luiperds met 1 287 terwyl die Mambas kort op hul hakke in die tweede plek met 1 225 punte was, gevolg deur die Valke met 1 107 punte. Florrie-atlete kry eerskomende Vrydag 24 Januarie weg van die huis af die geleentheid om te bewys wat hulle kan doen tydens ‘n atletiekbyeenkoms wat deur Hoërskool Driehoek aangebied word.

Gaan wys hulle Florries!

Verdere byeenkomste:

• Vrydag 31 Januarie: Tuisbyeenkoms

• Dinsdag 4 Februarie: Aflosbyeenkoms in Pretoria

• Vrydag 7 Februarie: Tuisbyeenkoms

• Woensdag 12 Februarie: Top 15 by UJ

• Vrydag 14 Februarie: Florida Prestige by UJ

• Vrydag 21 Februarie: Hoërskool Roodepoort-byeenkoms by Ruimsig

• Dinsdag 25 Februarie: Interhoër in Germiston

• Vrydag 28 Februarie: D12 by Ruimsig

• Vrydag 7 tot Saterdag 8 Maart: Gauteng-atletiekbyeenkoms

• Woensdag 26 tot Vrydag 28 Maart: SA-atletiekbyeenkoms in Polokwane

 

IMG_0477_506948342 IMG_0575_590820797 IMG_0615_534302404 IMG_0738_583044251 IMG_0432_590296042 IMG_0759_532533340 IMG_0359_520111663 IMG_0778 (Medium) IMG_0831 (Medium) IMG_0861 (Medium) IMG_0741 (Medium) IMG_0734 (Medium) IMG_0801 (Medium) IMG_0785 (Medium) IMG_0659 (Medium) IMG_0640 (Medium) IMG_0631 (Medium) IMG_0560 (Medium) IMG_0523 (Medium) IMG_0427 (Medium)

Related Articles

Back to top button