Ons is deur!
2013 Matriekuitslae van sommige Roodepoort-skole.
Die matrieks van 2013 het op Dinsdag 7 Januarie met ‘n huppel in hul stap by hul betrokke skole opgedaag om hul matrieksertifikate te gaan haal.
Van die skole wat die Record op die dag gaan besoek het was Hoërskool Florida, Roodepoort en Bastion wat almal met ‘n slaagsyfer hoog in die 90’s kan spog. Hoërskool Florida (Florries) se matrieks (297 in totaal) het vanjaar ‘n slaagsyfer van 99 persent. Minstens 150 slaag met universiteitsvrystelling en daar is 260 A’s behaal.
Hoërskool Bastion se matrieks (146) is trots met ‘n slaagsyfer van 97,8 persent. Daar is altesaam 75 A’s behaal.
Hoërskool Roodepoort (Roodies) se matrieks (123 in totaal) se slaagsyfer is 96,75 persent. Daar is 68 A’s behaal en minstens 53 persent slaag met universiteitsvrystelling terwyl 39 persent verder by ander tersiêre instellings kan studeer.
Die algemene gevoel van onderwysers en hoofde by die onderskei skole was, “Die klas van 2013 het aan hul verwagtinge voldoen. Ons voel die groep het gedoen wat hul moes en ons is tevrede” – Florida.
“Alhoewel die matriekgroep van 2013 baie gemiddeld was, was hulle bereid om die ekstra ure in te sit. Dit het gesorg vir ‘n hoër vakgemiddeld as in 2012” – Bastion.



