Latest SportSportUpdate

Fusion Babies haal uit en wys tydens SA’s

... "maar ongelukkig te jonk om oorsee te gaan".

Fusion Dance Studio het weer nie op die dansvloer teleurgestel nie.

Alhoewel twee dansgroepe van dié oulike dansateljee in Discovery aan die Suid-Afrikaanse Grand Prix in Pretoria deelgeneem het, is dit dié keer veral die Fusion Babies – soos die choreograaf en eienaar Marlise Burger na hulle verwys – se vertoning wat lof gekry het.

Marlise se Fusion Babies was die enigste junior span wat tot die finale rondte deurgedring het danksy ‘n spoggerige 86 persent. Hulle het toe in die finale rondte die oë verder laat rek en ‘n totaal van 88,36 persent gekry.

Maar ten spyte van die uitmundende prestasie om as Fusion Division-naaswenners van die hele kompetisie aangewys te word en die IFAA SA Junior-span te haal wat volgende jaar in Barcelona, Spanje in aksie gaan wees, het Marlise gesê, “Ek en die ouers dink hulle is nog te jonk en gaan hulle dus nie stuur nie.

“Ons is nietemin baie trots op hulle gouemedaljes. Ek is wel bly om aan te kondig dat my groot span volgende jaar die groen-en-goud tydens die 2014 European Dance Grand Prix in Spanje sal dra.

“Vir sewe van ons sal dit die tweede agtereenvolgende jaar wees en vir die res van die span (11 van hulle) ‘n groot geleentheid om te wys wat in hulle steek.

“Ons beoog definitief om met ‘n trofee of twee uit Europa terug te keer. Alhoewel die vlugkaartjies deur die International Fine Arts Association (IFAA) gebord sal word, moet ons nou geld bymekaar maak vir verblyf ens.”

Marlise kon ook nie anders nie as om haar groot span te loof wat ‘n uitstekende SA’s beleef het.

“My groot span het een dans gedoen. Ek het my groep saam met my jonger groepie gesit, wat die Fusion Revolution genoem word. Ons het ‘n breekdanser (break dancer) en ‘n elektriesekitaar-speler in die span gehad en baie dansstyle gekombineer. Ons is as die algehele kompetisiewenners gekroon.

“Ons is ook as die Best Professional Team en die Fusion Division-wenners aangewys met ‘n trotse 98,36 persent. Ons groep het boonop twee dubbele goud ontvang tydens SA’s – die enigste groep van enige ouderdom – waar die Fusion Revolution-span (11-tot-14-ouderdomsgroep) met twee goud en een silwer weggestap het.”

Related Articles

One Comment

  1. Ons as ouers is so trots wat die jong girls beruik het en Marlise & Rhode is fantastiese afrigters.

Back to top button