Local newsNews

Uitsmyters takel jong mans na bewering by nagklub

'n Groep jong mans beweer hulle is sonder rede aangeval.

‘n Jong inwoner van Roodekrans het die Record gekontak om die publiek te waarsku teen die uitsmyters van ‘n nagklub nadat haar broer en kêrel aangerand is op ‘n aand wat veronderstel was om ‘n pretgeleentheid te wees.

Carmen van der Westhuizen (20), haar broer Juan van der Westhuizen (28), haar kêrel en dié se nefie en nog drie vriendinne (almal adolessente) het op die aand van 8 November die dansklub Santini’s in Honeydew besoek toe hulle na bewering ongevraagde probleme kry.

Volgens me Van der Westhuizen het sy, haar kêrel en ‘n paar vriendinne ongeveer 2vm buite die klub by die worsrolletjiestalletjie gestaan en eet en gesels toe haar kêrel speels een van sy vriendinne ‘n stampie gee. ‘n Jong man wat aan me Van der Westhuizen bekend is maar nie ‘n vriend van haar is nie het na die groep oorgestap en ‘n konfrontasie begin. Hy het beweer dat haar mansvriend geniepsig met haar vriendin was. Hy was klaarblyklik onder die invloed van drank en/ of ander middels.

Haar broer en kêrel se nefie was in daardie stadium nog binne die klub. Haar kêrel het die moeilikheidmaker probeer kalmeer en me Van der Westhuizen is die klub in om haar broer en kêrel se nefie te gaan haal om te kom help.

Met die uitkomslag wou die nefie weet wat aangaan en voor hy hom kon kry is hy met die kop geslaan, waarna ‘n uitsmyter hom so hard in die gesig geslaan het dat sy neus aaneen gebloei het.

Haar broer, mnr Van der Westhuizen wat die oudste in die groep was, wou hierna by die uitsmyters weet wat aangaan maar hulle het die moeilikheidmaker se kant gekies en ‘n vyandige houding teenoor hom ingeneem.

Een van die uitsmyters het aan mnr Van der Westhuizen gesê dat hy moet ophou glimlag en voor hy tot verhaal kon kom het ‘n groep uitsmyters hom na bewering getakel.

“Die volgende oomblik hoor ek net ‘n geslanery en sien hoe al die bouncers my boetie pak. My boetie het op die grond gelê terwyl hulle hom skop en slaan. My ou was ‘n getuie dat hy glad nie met die bouncers skoor gesoek het nie. Dit het ook voorgekom of hulle onder die invloed van dwelms was,” sê me Van der Westhuizen.

Sy beweer ook dat een van die aanvallers die eienaar van Santinis se seun is. Verder beweer sy dat ‘n nagklubganger by ‘n vorige geleentheid so erg deur die uitsmyters van die klub aangerand is dat hy aan sy wonde beswyk het, maar dat daar nooit iets van die saak gekom het nie.

Die insident is deur mnr Van der Westhuizen, haar kêrel en dié se nefie bevestig (laasgenoemde twee wil anoniem bly). Drie ander getuies was te bang om met die Record te praat.

“Die bouncers moet onmiddellik vervolg word en Santini’s moet toegemaak word voor ander onskuldige mense seer- of doodgemaak word,” sê Mejuffrou van der Westhuizen.

Die Record het die klub twee maal telefonies en een maal per e-pos om kommentaar gevra maar die eienaars het volgens die bestuurder verkies om nie kommentaar te lewer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button