Grou- en brouwerk word inwoners se werk
Die skuldige party se onvoltooide werk het inwoners die josie in.
Besigheidseienaars en inwoners in CR Swartrylaan en Foxglovestraat is gefrustreerd met een van die stadsraad, of dan hul kontrakteurs, se ou laaie.
Diensleweraars grawe reuse gate in die sypaadjies wanneer hulle herstelwerk doen maar gooi dit nie weer toe en maak dit netjies nie. So is daar een van die gate op die hoek van Wilgeroodweg en CR Swartrylaan wat blykbaar al vir meer as twee maande so oopstaan.
Wat kommerwekkend is, is nie net die feit dat iemand daarin kan val nie (dis reg in die middel van die voetgangerpaadjie) maar ook dat die elektriese kabels ontbloot is. Natuurlik het die versoeking ook net te groot geword vir morsjorse om dit as ‘n asblik te gebruik.
“Ons rapporteer die gate al vir twee maande en het talle verwysingsnommers. Verder blameer al die partye mekaar maar niks word gedoen nie,” sê Wilson Delport, ‘n werknemer van Knights Eiendomsagentskap oor die ontsierlikheid reg voor hulle onderneming.
Hy het ook aan die Record nog sulke gevaarlike gate in Foxglovestraat gaan wys waarvan party maar deur die huiseienaars self toegegooi is.
Die Record wag vir kommentaar van City Power.



