EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Francois van Coke: god van wat?

Van Coke Kartel se draai in Krugersdorp lewer unieke insig op.

Met Van Coke Kartel se optrede by Cedar Lodge op Saterdag 2 November het die Record dit reggekry om Francois van Coke gou eenkant te kry vir ‘n vinnige onderhoud. Die paar vrae het insiggewende antwoorde vanuit die oogpunt van die sogenaamde Afrikaanse counter culture opgelewer.

Hoe voel jy oor dit wat die gehoor vanaand geskree het? (‘Francois is god’, ‘Francois is Jesus’)

“Ek voel weird daaroor want ek is nie regtig religious nie. Maar god van wat?”

[Francois lag]

Veral in die lig daarvan dat jou pa ‘n dominee is?

“Ja, dit is weird. Ek kan dit nie ernstig opvat nie. Ek glo dit is omdat hulle van die band en ons musiek hou, en dit maak my bly.”

Het julle as lede van die band gekalmeer sedert julle getroud is?

“Ja – maar nie noodwendig omdat ons getroud is nie – ek het vir lank nie gedrink nie en Wynand drink nou al byna twee jaar nie.”

Hoe voel jy oor die feit dat soveel mense in die gehoor (wat met die Record gesels het) na jou verwys as die ‘woordvoerder van ‘n generasie’?

“Ons moet maar net ‘n treetjie terug gee na Fokofpolisiekar toe. Met Fokofpolisiekar het ons musiek gemaak wat ons wou hoor en gesê wat ons werklik wou sê. Soos wat dinge aangegaan het, het net meer en meer mense daarby aanklank gevind – en dit is ‘n nice gevoel.”

In die lig van die verkiesing volgende jaar en vir die volgende twaalf maande, beoog julle as band om musiek as die platform te gebruik om jul aanhangers te beïnvloed?

“Ek is ‘n Suid-Afrikaner, ek bly in Suid-Afrika. Ek maak musiek in Afrikaans. Ek gaan hier bly want ek het geen ander heenkome nie. Ek gaan maar hoop vir die beste.” [Francois lag]

“Gelukkig bly ek in die Kaap waar dinge rustiger gaan. Dit is ‘n moelike vraag om te beantwoord, want al waaroor ons kan sing is ons ondervinding in Suid-Afrika en dit is al waardeur mense regtig, van ons kant af, beïnvloed kan word.”

Watse musiek het grootliks Van Coke Kartel se klank en visie beïnvloed?

“Steeds punk-rock en grunge; dit was die eerste CD’s wat ek gekoop het – Nirvana, Pearl Jam, Green Day. Maar ons attitude is beslis nog DIY want ons het self die album gefinansier en ons bestuur onsself. Vir ons bly punk-etos baie belangrik.”

Van Coke het saam met Wynand Myburgh, Jedd Kossew en Jason Oosthuizen getoer om die groep se nuwe album, Bloed, Sweet en Trane bekend te stel.

Sien foto’s van die Van Coke Kartel optrede hier en hier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button