Havies-krieketspelers vaar puik
Twee Havie-krieketspelers het groot planne
Twee Dr Havinga-leerlinge het pas die Gauteng-Wes span gehaal, vertel die trotse afrigter en onderwyser Jan Ackerman.
Tussen Maandag 21 en Dinsdag 22 Oktober het Havies Jaco Ferreira (12) en Zander Coetzer (12) tydens die proewe uitgeblink, en is baie opgewonde oor hulle prestasies.
Ackerman het verduidelik dat dié twee leerlinge eers aan die Sentraal-Wes proewe deelgeneem en daar span gehaal het, en later gekies is om aan ‘n Gauteng-krieketfees deel te neem. Na die krieketfees is hulle genooi om aan die Gauteng-Wes proewe deel te neem.
“Seuns van sover as Carletonville tot by Weltevreden Park het aan die Gauteng-Wes proewe deelgeneem.
“Die skolekrieket is nou klaar, maar as hulle so aanhou presteer en volgende jaar weer die Sentraal-Wes span haal, kry hulle die geleentheid om Gauteng-proewe te speel vir ‘n plek in die Standard Bank-krieketspan.”
Jaco speel al sedert Graad 2 krieket en spog met sy krieketprestasies toe hy nog in die o.10-span was. Hy het toe 89 lopies gekry met kolfwerk, vier paaltjies vir 23 lopies geneem, en ses boulbeurte geboul. Zander, wat van Graad 3 af aan krieket begin deelneem het, spog met ses paaltjies vir 27 lopies, 63 lopies met die kolf en het ses boulbeurte geboul terwyl hy in die o.10-span was.
Dié twee Graad 6-leerlinge sê hulle wil in die hoërskool nog meer met hulle krieket bereik.
“Hulle wil dit hulle loopbaan maak,” meen Ackerman.
“Dit is vir die Havies ‘n groot voorreg om sulke voortreflike sportmanne en ander presteerders in ons midde te hê.”



