Florries eindig derde in nasionale sewestoernooi
2013 Seisoen: Speel 16, wen 13, verloor slegs 3.
Hulle het nou nie met die Rhino-beker teruggekeer nie, maar Hoërskool Florida se sewesrugbyspan het hul stad trots gemaak deur algeheel derde uit die 16 skole te eindig toe hulle onlangs in Skukuza in die Krugerwildtuin aan die Merensky-sewestoernooi deelgeneem het.
Florries het in die groepfase wel met Middelburg (19-14) en Potch Volkies (19-14) afgereken, maar ongelukkig teen HTS Middelburg (17-7) vasgeval.
In die halfeindstryd het hulle teen die altyd taai opponent van Nelspruit te staan gekom en in die doodsnikke met 28-21 verloor.
Volgens Morné Hanekom, Florrie-woordvoerder het die skool se sewesspan ‘n goeie 2013 beleef.
“Dit was eerstens ‘n groot prestasie om vir so ‘n toernooi te kon kwalifiseer, toe deel te neem en uiteindelik die derde plek te behaal. Die span het vanjaar 16 wedstryde gespeel, 13 gewen en slegs drie verloor.”
Dit was ook die eerste keer in die geskiedenis dat ‘n sewestoernooi in die Krugerwildtuin aangebied is. Met die afskop van die Merensky-sewestoernooi vroeg in Augustus is rugbyspanne uitgenooi met die doel om fondse in te samel vir die Veldwagtersvereniging om hulle te help om renosterstropery meer effektief hok te slaan.



