Dankie, Wayne Minnaar
'n Inwoner bedank Wayne Minnaar dat hy aandag aan die verkeer by Hoërskool Bastion gee.
Valerie Hopper (email)
Op Donderdag 10 Oktober gedurende die betoging op die Randfontein-pad wat verby Witpoortjie loop, is die verkeer vanaf Johannesburg deur ons woongebied, Witpoortjie herlei.
Ek het met die verkeerspersoneel wat op diens was by die punt waar die pad versper is, gaan gesels en mooi gevra dat ‘n verkeersbeampte by Hoërskool Bastion geplaas word wanneer die skool verdaag. Die probleem is dat die verkeer deur Trezonalaan herlei is, wat beteken dat verkeer by Hoërskool Bastion gedurende die betoging chaoties was. My versoek het op dowe ore geval.
Gisteraand, Dinsdag 15 Oktober omstreeks 8nm terwyl ek by die skool wag om my seun na revue op te laai het ek opgemerk dat die verkeer weer chaoties was. Ek het toe weer vir JMPD gekontak om te versoek dat iemand moet kom help. Of hulle wel daar uitgekom het weet ek nie, en ek het toe maar ook die buurtwag geskakel om hulp te vra.
Aan al die vrywilligers van die Witpoortjie-buurtwag, ‘n baie groot dankie vir wat julle vir ons doen – julle is die beste!
Vanoggend, Woensdag 16 Oktober is dit weereens op die nuus genoem dat die betogings voortgaan en dat die verkeer weer deur ons woonbuurt herlei gaan word. Dit is toe dat ek besluit om iemand met gesag te skakel en word toe na ‘n ene Wayne Minnaar verwys.
Hy het baie geduldig na my tirade geluister en ook belowe om te verseker dat daar personeel aangewys sal word om, sou dit nodig wees, die verkeer gedurende die middag en ook in die aande met die revue by Hoërskool Bastion te monitor.
Baie dankie, mnr Minnaar – dit is seker een van die moeiliker poste in die verkeersdepartement wat u beklee.



