Groot kriekettoekoms vir Johan voorspel
Kruiners se Johan Mulder word die volgende krieketsensasie genoem.
Hulle noem hom die volgende krieketsensasie, en daar word selfs voorspel dat hy eendag diep spore in Suid-Afrikaanse krieket gaan trap.
Sy naam is Johan Mulder, Laerskool Helderkruin se o.13-krieketmasjien wat kan kolf, boul en as paaltjiewagter kan diens doen.
Johan speel al van kleins af krieket en is sedert hy agt jaar oud is elke jaar deel van sy streekspan (Sentraal-Wes).
Vanjaar het Johan reeds ‘n baie goeie jaar met die kolf vir sy skool- en streekspan gehad, en het vyf honderdtalle en verskeie 50-talle aangeteken. Hy is ook aangewys as die kolwer van die Sentraal-Wes Aandreeks wat onlangs gespeel is, waartydens hy die kampioenspan, Helderkruin as kaptein aangevoer het.
Johan is ook ‘n bekwame paaltjiewagter en wanneer hy die handskoene uittrek, staan hy sy plek as bybreekbouler vol.
Sy jongste prestasie is dat hy in die o.13A Gauteng-krieketspan (bekend as die Standard Bank-span) ingesluit is. Die span sal hierdie Desember tydens die Nasionale Krieketweek in Bloemfontein in aksie wees.
Isobel Mitchley, woordvoerder van die skool, het Johan se sukses toegeskryf aan die aantal ure wat hy op die oefenveld deurbring en die afrigting wat hy van Reuben Mangalsi ontvang.
“Sy harde werk gaan egter nie nou ophou nie, want sy mikpunt is om in die hoërskool ook die Gauteng-spanne te haal totdat hy eendag vir die Proteas uitdraf.
“Ons as Kruiners wens hom ‘n blink kriekettoekoms toe.”



