CrimeNews

Witpoortjie-sakeman in huis beroof

Tienerdogter weer hulle af, sny familie los.

‘n Witpoortjie sake-eienaar en sy huisgesin is Saterdag 28 September laatmiddag in hul huis beroof.

Ongeveer 4.20nm het Derrel Goss die huis binnegestap en die sekuriteitshek oopgelos om inkopies uit die motor te laai en gou die tuin nat te spuit.

Toe hy omdraai, vertel hy, was hulle daar.

Vier verdagtes het hom met ‘n geweer aangehou en later sy skoene se veters gebruik om hom, sy skoonma, vrou en dogter in die sitkamer vas te bind. Goss is uitgevra oor waar die kluis is en is later saam slaapkamer toe om dit oop te maak.

“Hulle het my vasgemaak en aanhoudend geskop en geslaan.”

Goss se tienerdogter, Anja (16) het terruggeskop toe sy aangeval is.

Nadat geld en goedere ter waarde sowat R80 000 uit die huis gesteel is, insluitend vier selfone, ‘n televisiestel, juwele, R4 000 kontant en vuurwapens, is die verdagtes buitentoe om die motors te pak.

Dit is toe dat Anja spring tot waar sy weet ‘n mes gehou word en haarself, haar ouma en ouers lossny. Goss het dadelik die sektorpolisie ontbied.

“Hulle is weg met altwee my motors,” vertel Goss, waarvan een ‘n Nissan Almera (YYR 961 GP) en een ‘n Kia-bakkie (WFT 507 GP) is.

“Nadat ek vir hulle vertel het dat ons 50 of meer mense binne ‘n halfuur verwag om na die rugby op televisie te kom kyk, het hulle gespaander om klaar te kry.”

Hoewel Goss spyt is dat hy die veiligheidshek nie soos gewoonlik gesluit het nie, is hy “net bly die vroue het ongeskaad daarvan afgekom.

“Ek was veral bekommerd dat hulle die vroue sou seermaak.

“Ek het gevra dat hulle my losmaak sodat ek die kluissleutels kon soek, maar hulle het botweg geweier.”

Goss se grootste vrees is dat die verdagtes sal terugkeer.

“Hulle is weg met my huis- en winkelsleutels wat nog in die motor was.”

Goss is die eienaar van die Witpoortjie Hardewarewinkel in Generaal Pienaarstraat.

Nadat die polisie vingerafdrukke geneem het, het Goss ‘n saak van huisbraak en diefstal geopen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button