Local newsNews

Verraaiers-inspirasie stel nuutste boek bekend

Albert Blake, op wie se vorige boek die fliek Verraaiers gebaseer is, stel sy nuwe boek in Lindhaven bekend.

By ‘n kuierplek in Lindhaven op die warm aand van Maandag 16 September is Albert Blake se nuutste boek, Moord-en-roof: In die kop van ‘n baasspeurder, bekendgestel.

Blake is veral bekend vir sy boek Boereverraaier, waarop die 2013-fliek Verraaiers gebaseer is. Sy tweede boek, Boerekryger, is in 2012 bekendgestel.

‘n Goeie vriend, Louw de Villiers het Blake help reël aan die bekendstelling waartydens vele beroemde (en dalk berugte) Wes-Randers saam gekuier het, onder andere ‘n waarnemende regter van Krugersdorp, Chris Eksteen en ‘n afgetrede adjunk-nasionale direkteur van die Vervolgingsgesag, advokaat Jan Henning SC.

Daar was ook ander bekende Roodepoort-gesigte.

Strafregprokureur Bill van Vuuren en legendariese speurder Charles Miller was onder die eregaste, wat albei hulle samewerking gegee het terwyl Blake Moord-en-roof geskryf het.

Die boek handel oor die strewe na geregtigheid deur die werk en besluite van Charles Miller, ‘n topspeurder vir die destydse Moord en Roofeenheid, onder die soeklig te plaas.

Die Record was bevoorreg om vir Blake, ‘n Honey Hills-inwoner, eenkant te kon kry vir ‘n paar vinnige vragies.

Blake vertel dat hy ‘n liefde vir geskiedenis en regte mense se ware verhale het, en hoewel hy dit nie sommer vertel nie, het hy twee meestersgrade cum laude in Geskiedenis.

“My eie [kort] tydjie as ‘n joernalis het my geleer om die feite reg te kry,” verduidelik Blake.

“Lesers kan uitsien na nog interessante nuwe boekprojekte,” vertel Blake, maar hy wou niks verder verklap nie.

Blake is ‘n prokureur van beroep en praktiseer tans in Allen’s Nek. Sy nuwe boek behoort later in September op winkels soos CNA, Exclusive Books en Bargain Books se rakke te beland.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button