Groot oomblikke in Afrikaans met dié filmfees
Beleef Afrikaanse film kultuur by Ster Kinekor vanaf September tot November.
Film fanatici kan binnekort ‘n rits nuwe Afrikaanse flieks geniet by Ster Kinekor as deel van die Absoluut Afrikaans rolprentfees.
‘n Fees van plaaslike Afrikaanse rolprent produksies word tussen September en November vrygestel by verskeie Ster Kinekor teaters.
“In ‘n poging om ons land se plaaslike talent en groeiende Afrikaanse filmbedryf bekend te stel het ons hierdie titels vir die rolprentfees vervat,” verduidelik Simóne Erasmus, Amplified Communications konsultant namens Ster Kinekor.
Daar word altesaam ses nuwe titels met die fees vereenselwig. Bakgat 3, Molly & Wors, Musiek vir die Agtergrond, Die Ballade van Robbie de Wee, Khumba en As Jy Sing! verskyn binnekort op die silwerskerm.
Dié fees, wat laasjaar vir die eerste keer plaasgevind het, beoog om die jongste en beste Afrikaanse flieks aan inwoners bekend te stel.
“Afrikaanse rolprente het ‘n groot aanhang en word deur die plaaslike gehoor geniet en waardeer.
“Ster Kinekor is seker dat die titels wat hul beplan om vry te stel die tendens sal help groei.”
Erasmus noem dat die fees ook ‘n opwindende kompetisie aanbied. Ses mid-week vakansie wegbreek geleenthede word weggegee vir gesinne van vier, wat die flieks gaan kyk.
Bakgat 3 gehore word ook die geleentheid gebied om die gewilde akteurs van die prent te ontmoet by die Kolonnade in Pretoria, River Square in Vereeniging en East Rand Mall in Boksburg.
“Ons moedig almal aan om hierdie deel van Afrikaanse kultuur te beleef.”
Die eerste fliek, Bakgat 3, begin draai op Vrydag 6 September en is te siene by Westgate Shopping Centre.
Vir meer inligting oor die Absoluut Afrikaans Rolprentfees of om kaartjies te bespreek, besoek www.sterkinekor.com of skakel Ticketline by 082 16789.



