Latest SportSport

Plaaslike jaer wil in Spanje gaan gas gee

Die manne moet glad nie Loumari Grobler (23) se honger vir gevaar en vernuf op ‘n ysterperd onderskat nie. Loumari, wat in Wilropark woon, is een van die vinnigste vroulike Superfiets-renjaers in Suid-Afrika en nou het die eer haar en haar twee medejaers, Nicol van Aswegen en Janine Mitchell, te beurt geval om na Spanje …

Die manne moet glad nie Loumari Grobler (23) se honger vir gevaar en vernuf op ‘n ysterperd onderskat nie.

Loumari, wat in Wilropark woon, is een van die vinnigste vroulike Superfiets-renjaers in Suid-Afrika en nou het die eer haar en haar twee medejaers, Nicol van Aswegen en Janine Mitchell, te beurt geval om na Spanje genooi te word om in ‘n wedren slegs vir vroue met van die wêreld se beste vrouejaers mee te ding.

Loumari is al vir sewe jaar ‘n professionele jaer en vertel dat haar oom Petrus Grobler en pa se boesemvriend Gary Botha, wat altwee in motorfietsongelukke omgekom het, haar inspirasie is. Sy was slegs 10 jaar oud toe sy reeds haar sit op ‘n motorfiets leer ken het.

Die hoogste snelheid wat sy al op ‘n motorfiets gehaal het?

“So 250 kilometer per uur, maar ek kyk nie altyd na my spoed nie,” sê die jong adrenalienverslaafde.

Alhoewel beide haar ouers haar ondersteun, sê sy dat haar ma nie graag na die renne gaan kyk nie aangesien dit te stresvol vir haar is. Met goeie rede, sê Loumarie, want sy het al meer keer geval as wat sy kan onthou. Sy het twee keer haar sleutelbeen gebreek, eenkeer haar hand en ook ‘n keer ernstige harsingskudding opgedoen. Tog wil die gogga haar net nie los nie.

Nou het die Spaanse federasie gevra dat die top drie Suid-Afrikaanse vrouejaers hulle staal in Spanje moet kom wys. Die enigste probleem is dat sy nie ‘n borg het vir die sport wat die familie reeds meer as R100 000 ‘n jaar uit die sak jaag nie en dat dit baie kos om ‘n motorfiets te verskeep. Die Groblers hoop dat iemand in Suid-Afrika met kontakte in Spanje ‘n ander motorfiets vir haar daar kan reël. Sy sê enigiets tussen ‘n 600cc en 1000cc sal die ding doen.

Alhoewel sy glad nie op die pad motorfiets ry nie het sy die volgende raad aan padgebruikers – motoriste moet motorfietsryers respekteer en motorfietsryers moet die korrekte drag dra.

As daar enige iemand is wat dalk kan help om Loumari se droom om oorsee te gaan deelneem ‘n werklikheid te maak, kan hulle haar pa, Lourens Grobler by 083 266 7771 skakel.

Related Articles

Back to top button