Volkies stap weg met o.15-kroon, Monnas se kalfies kry niks
Besluit oor wie wen bevraagteken, maar GLRU sê reëls is reëls.
Dit is ‘n bitter pil om te sluk as jou span en ‘n ander een gelykop in ‘n wedstryd eindig maar dan kry net een span boonop al die eer.
Dit was presies die geval toe Monnas en Volkies se rugbyspanne 13-elk geëindig het in die eindstryd vir die o.15-kroon op Woensdag 21 Augustus.
Monty Benade van die Goue Leeus Rugby Unie (GLRU) in beheer van sake by Roodepoort Rugbyklub se Hoërskole-reeks verduidelik hoe so iets moontlik is. “As daar ‘n gelykopuitslag is, word ‘n ekstra vyf minute aan ‘n kant gespeel. Indien die twee spanne steeds gelykop is, word daar gekyk na die aantal drieë wat gedruk is.
“Indien die telbord steeds gelykop is, word daar gekyk wie eerste die doellyn oorgesteek het. In dié geval was dit Volkies”.
Nou ja, daar het jy dit. Die GLRU sê reëls is reëls, maar terwyl die span wat eerste gaan druk het, die trofee omhoog hou, kan niemand die “verloorders” kwalik neem as hulle sou voel dat hulle beroof is nie.
Ja, Monnas het hul kans gehad om die wedstryd in die doodsnikke te wen, maar is dit ‘n regverdige reël om die wenners en dié in die tweede plek op alle vlakke – maar veral op skolevlak – so aan te wys?
Sou dit nie billik wees om die beker te deel of vyf keer pale toe te skop soos dit in die Wêreldbeker- of groot internasionale kompetisie beslis word nie? Watter boodskap stuur dit aan ‘n span wat byvoorbeeld 20-0 agter loop en dan met ‘n indrukwekkende terugvegpoging gelykop eindig?





