Lindel Hendricks het die Record op 6 Augustus laat weet van ‘n onwettige rommelstortingsterrein op die hoek van Minnaar- en Frederickstraat.
Hendricks kla dat dit rotte en muise na hulle huise toe lok.
Die Record het gaan ondersoek instel en op meer as een so ‘n stortingsplek afgekom. Daar is byvoorbeeld ook ‘n aardige een op die hoek van Minnaar- en Acropolisstraat.
Wat vir die Record opvallend was is dat daar feitlik net huishoudelike afval rondlê.
By die terrein in Frederickstraat het die Record vir Chaydon Hendricks en Sheridan Scholtz ontmoet.
“Dit is ‘n groot probleem. Die rotte is so groot soos babahondjies en maak ons siek,” vertel Scholtz.
Die Record het daarna vir die Raadslid vir die wyk, Gert Niemand, genader vir sy kommentaar.
“Aikôna, dit is die Davidsonville-siekte. Ek het dit laasjaar gesê en sal dit weer sê: dit is die mense van Davidsonville self wat so rommel stort. Dis nie mense van buite nie,” protesteer Niemand.
“Elke nou en dan kom Pikitup met stootskrapers en maak skoon, en nie lank daarna nie lyk dit maar weer so,” sê ‘n vieserige Niemand.
Hy het ook saamgestem dat dit huishoudelike rommel is en dat dit die rede is hoekom dit rotte en muise lok.



