Florida vier fees met die Melktert Kommissie
Die Melktert Kommissie en The Burning Black Sorrow vermaak 'n groepie Hoërskool Florida-leerlinge by die JOK-Fees.
Op Donderdag 1 Augustus het ‘n Record-joernalis Hoërskool Florida besoek om hulle JOK-Fees te gaan beleef.
Die Florries se Jeug Oor Kultuurfees (JOK-Fees) is ‘n jaarlikse instelling waartydens skoolkinders op kultuur fokus en inwoners met hulle optredes vermaak.
Kaartjies is verkoop teen R50 per persoon en leerlinge en Roodepoort-inwoners het van 5nm af begin opdaag vir ‘n tikkie kultuur. Die Melktert Kommissie het opgetree en ‘n plaaslike orkes, The Burning Black Sorrow het vir hulle geopen.
Die Record het die geleentheid gehad om met albei groepe te gesels net voordat hulle op die verhoog verskyn het.
“The Burning Black Sorrow is ‘n rockorkes wat van verskeie rockgenres gebruik maak om musiek saam te stel wat almal kan geniet,” vertel sanger en ritmekitaarspeler Jean-Pierre Delport.
Dié orkes is pas ‘n jaar saam nadat hulle in Julie 2012 gestig is, en bestaan tans uit vyf lede.
Buiten Jean-Pierre speel Quintin Brits kitaar, Heinrich Erasmus speel klawerbord en sing, Armand Erasmus speel baskitaar en Davin van Niekerk speel tromme.
“Dit is baie opwindend om vir ‘n suksesvolle orkes te kan open,” het Jean-Pierre verduidelik.
Voor die Melktert Kommissie se optrede het die Record in die spesiale JOK-Fees-restaurantjie, die Katjiepiering, met hulle gesels.
Toe Jaco-Martin Pieterse, ‘n joernalis by Florant (Hoërskool Florida se skoolkoerant), besluit om ‘n onderhoud met die groep te voer, was die Record daar om ‘n bietjie advies te gee en om self meer van hul geskiedenis te hoor.
“Eintlik het ek en ‘n vriendin, Betsie, in Standerd 9 saam begin optree, eenmaal selfs by die Humansdorp-skou,” het sanger Lucinda Strydom vertel.
“Thys die Bosveldklong het ons gespot omdat ons nog nie ‘n naam gehad het nie, en hy het ons ‘melkterte’ genoem.
“Toe dit tyd raak vir naam kies was die Melktert Kommissie (omdat daar ook ouens in die orkes is) ons eerste keuse.
“Die ander keuses was Kook en Geniet of Vlymskerp.
“Toe ons Rockspaaider wen, het ons baie publisiteit gekry en kon ons by Aardklop gaan optree, wat ons regtig gehelp het om onsself te bemark en bekend te word.
“Ons ken mekaar baie goed en as ons senuweeagtig raak voor ‘n optrede, spot ons mekaar om daaroor te kom.”
Die groep het verduidelik dat hulle baie helde het, almal Suid-Afrikaners – Piet Botha, Karen Zoid en Valiant Swart se name is die meeste genoem.
Alhoewel die groepie leerlinge wat tydens die optrede saamgedans het maar klein was, het selfs die Melktert Kommissie gesê dat die samesyn iets fantasties was.
“Dankie vir julle gees, ons hoop ons sien julle gou weer!”



