Span slaan hul naam met ‘n plank op krieketveld
Randburg-skool staan 63 ekstra's af in T20.
Mens wil nou nie skinder nie maar die rekords het gespat in ‘n T20-kragmeting tussen twee LSEN-skole, Delta Park en Lanternskool op Woensdag 31 Julie.
In hul eerste wedstryd in die liga vanjaar het Lanternskool se eerstekrieketspan danksy ‘n rekordopeningsvennootskap van 213 vir Deltapark van Blairgowrie in Randburg met 226 lopies verniel.
Lantern wat die loot gewen het, het besluit om eerste te kolf en ‘n reuse telling van 286 aangeteken vir die verlies van een paaltjie. Die openingskolwers wat die grondslag gelê het is Remi Carelse met 92 nie uit nie en Keagan de Lacy met 85.
Kyle Davy wat op nommer drie ingekom het, het hom ook duidelik op die kolfblad geniet en sy vyftigtal (56) van slegs 19 balle gemoker.
Terwyl Lanternskool se kolwers in hul beurt geskitter het, het die boulers van Delta Park hulle name met ‘n plank geslaan deur altesaam 63 ekstras af te staan. Dit sluit 38 wydlopers, 17 bylopies en agt foutballe in.
Delta Park se kolwers kon nie die mas opkom nie en is toe vir slegs 60 lopies in hul 20 beurte beperk.
Kobus van Aarde, afrigter van Lanternskool se eerstekrieketspan het sy spelers geloof vir ‘n goeie vertoning en aan die Record gesê, “Dit was een van die aanskoulikste wedstryde nog”.
Die afrigter van Delta Park, Wilfred Jacobs moet nog kommentaar lewer.
Lanternskool pak op Donderdag 8 Augustus vir Prestasie van Germiston – glo hul taaiste opponent.



