‘n Span insluitend akteur David Rees wat destyds die rol van Nick in die sepie Egoli vertolk het, die Operasionele Hoof van Roodepoort SAPD Jacq Viljoen en voormalige SAPD kaptein Jan Combrink (nou verbonde aan die forensiese maatskapy Open Waters en aan die spits van die Uturn Drug Campaign) was reeds vroegoggend op 29 Julie by Hoërskool Roodepoort om die leerlinge oor die gevare van dwelms toe te spreek.
Rees wat self tien jaar aan verslawing prysgegee het, het nederig en eerlik met die leerlinge gepraat. In plaas daarvan om prekerig te wees het hy erken dat die ouderdomsverskil tussen hom en die leerlinge hom dalk minder kredietwaardig kan maak, hoewel hy tog ‘n positiewe boodskap en pleidooi gelewer het.
“Ek het self op julle ouderdom gedink niemand kan my enige iets vertel nie,” het Reese ernstig gesê.
Hy vertel dat in samewerking met die SAPD en Combrink hulle nie net klem lê op bekamping nie maar meer op voorkoming.
Viljoen het ook die leerlinge gevra om vir die SAPD inligting te gee sodat veral handelaars vasgevat kan word.
Combrink het gevra dat enige iemand wat van die span se hulp of ondervinding wil gebruik maak, hom by 072 237 5537 of vir Viljoen by 082 337 0637 moet kontak. Die webtuiste www.uturndrugs.com kan ook besoek word.



