Skrapse pensioen laat Tannie Hester stap
Stappende tannie bereik binnekort groot mylpaal.
Daar is seker nie ‘n inwoner in die Witpoortjie-area wat nog nie die ou dametjie met haar trollie sien stap het nie.
Die Record het na baie navrae van die publiek besluit om die tannie te gaan ontmoet en op 24 Junie na ‘n uur se gesoek in die strate van die omgewing haar toevallig reg voor die Caxton-kantoor opgespoor.
Tannie Hester van der Merwe (neé Kriel) word op 1 Augustus 76 jaar oud wat die kilo’s wat sy per voet aflê net meer verbysterend maak.
Volgens Tannie Hester maak dit haar baie kwaad wanneer mense dink sy krap in asblikke of dat sy haweloos is. Die feit van die saak is dat sy in Van Lillstraat ‘n kamer huur. Die stappery is om ou klere te kollekteer en weer te verkoop, aangesien haar pensioen te skraps is om van te leef. (Huidiglik beloop ‘n staatspensioen net ‘n rapsie oor die R1 200 teenoor die amper R9 000 per maand wat dit die staat kos om een krimineel in die tronk te versorg.)
Tannie Hester se brein is ongelooflik skerp en sy het ‘n geheue soos ‘n olifant. Wanneer sy van haar baie staaltjies vertel, sommige hartseer, onthou sy selfs dag en datum.
Sy vertel dat sy nie ‘n banghaar op haar kop het nie, toe die Record haar oor haar veiligheid vra. Sy kla wel dat die hael haar al ‘n paar keer lelik geklits het. Tannie Hester het in Swartgruggens se Blikkiesdorp groot geword en vertel dat haar lewe maar moeilik en vol drama was.
Voor die Record gegroet het, het Tannie Hester vertel dat sy baie lief vir roomys, Coke en peperment sjokelade is.
Enigiemand wat Tannie Hester op watter wyse ook al wil bystaan kan die Record-kantore kontak.



