Local newsNews

Dag begin op vals noot vir pensioenaris

Publiek moet meer aandagtig wees rakende slenters.

Toe Daan Erasmus (78) op 2 Julie ‘n laaste maal van die laer dieselprys wou gebruik maak was hy onbewus van die skok wat op hom sou wag die volgende oggend.

Volgens Erasmus het hy op die dag aanvanklik eers by een vulstasie gestop maar hulle het nie meer voorraad van diesel gehad nie waarna hy by ‘n vulstasie naby sy huis op Ontdekkersweg geholpe geraak het.

Hy het vroeër kontant by ‘n outomatiese tellermasjien (OTM) getrek maar geen transaksies met die geld gedoen nie. By die vulstasie het hy R500 in R100-note om die diesel ter waarde van R478 mee te dek plus ‘n fooitjie aan die joggie gegee en huiswaarts gekeer.

Groot was sy skok toe hy op die oggend van 3 Julie toe hy tussen 7.30vm en 8vm ondersoek instel tot sy brakkies se gekef en twee SAPD-lede by sy hek vind.

Die twee polisielede het hom (nog in sy slaapklere en sweetpak) na die vulstasie van die vorige dag ontbied op ‘n aanklag dat hy met vervalsde note betaal het. Erasmus het sy samewerking gegee en is saam met die SAPD na die vulstasie.

Hier is aan hom verduidelik dat die kassiere die eienaar in kennis gestel het van die vals note en dat die eienaar na aanleiding van kringtelevisiemateriaal vasgestel het dat hy die skuldige was. Uit skok het Erasmus dadelik die R200 vervang.

Hierna is hy na sy bankbestuurder by Absa wat hom verseker het dat daar glad nie valse note deur ‘n OTM kan gaan nie (FNB het dit ook bevestig).

Erasmus het met ‘n tameletjie gesit aangesien hy nie kon verklaar hoe hy dan in besit van die vals note kon kom nie.

Hy is terug na die vulstasie en die eienaar het belowe dat hy die saak verder sal ondersoek. Teen 8nm het die eienaar “met ‘n ander storie gekom” volgens Erasmus en om verskoning gevra. Hy het ook Erasmus se R200 vir hom gaan teruggee.

Wat Erasmus pla is dat die vulstasie onmiddelik sy registrasienommer gehad het en hom as die skuldige uitgewys het en verder dat die SAPD-lede hom nie gearresteer het vir so ‘n ernstige “oortreding” nie. Hy is wel verlig aangesien hy onskuldig is.

Die vulstasie-eienaar aan die ander kant sê dat hy nie Erasmus beskuldig nie en gee hom die voordeel van die twyfel. Hy het aan die Record gesê dat hy nog verder ondersoek moet doen en vertel dat hy gereeld ingedoen word maar dat dit moeilik is om die skuldiges vas te vat.

Kaptein Lydia Dikolomelo het ook daarop gewys dat dit wel ongerymd is dat die SAPD-lede nie ‘n saak oopgemaak het nie en die oortreding so maklik onder die mat gevee het.

Dikolomelo is tans besig om die voorval te ondersoek aangesien die Record die name van die twee Florida SAPD-lede aan haar kon verskaf.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button