Die inwoners van Dee Dee Brownstraat en die groter Wilropark area was al moedeloos ten tyde hulle die Record gekontak het oor die swak toestande van hul paaie.
Johannesburg Roads Agency (JRA) moes selfs om verskoning vra vir hul swak laswerk. Met raadslid Suzanne Clarke se insette het JRA later belowe om die hele straat oor te teer “voor die einde van die finansiële jaar”.
Elke Record opvolgbesoek was ‘n verdere teleurstelling aangesien die JRA-werkers keer op keer net ‘n paar uur gewerk het of net nie sigbaar was in hul werk op dié straat nie. Die gevolg was dat heen-en-weer gesprekke en verskonings die norm geword het.
Op Maandag 1 Julie is die blye tyding met die Record meegedeel. Dee Dee Brownstraat is uiteindelik weer netjies.
‘n Inwoner het die Record gekontak en verduidelik dat JRA-werkers “al die hele naweek” gewerk het om die pad heeltemal oor te doen. Die Record is genooi om self ondersoek te gaan instel, en dit is inderdaad die geval. Maandagmiddag kon vele motors die straat weer gebruik.



