Vyf Florrie-eersterugbyspan spelers is in die Goue Leeus se o.18 Cravenweekspan vir 2013 ingesluit.
Die sterk baldraer en haker, Joseph Dweba – wat ook stut en flank kan speel, die vleuel Ralton October, die heelagter en puntemasjien Erwin Harris, die skrumskakel Brandon Rick en senter Fernando Kermis is die vyf Florries wat in Julie-maand saam 17 ander skoolseuns die o.18 Goue Leeus Cravenweekspan-trui oor hul kop sal trek.
Die res van die o.18-span bestaan uit Hoërskool Monument (9), Jeppe Boys’ High School (3), King Edward VII School KES (1), St Stithians College (1), St Johns College (1), Die Helpmekaar Kollege (1) en St Benedicts College (1).
Verder het nog eerstespanspelers soos die stut Kyle Kruger – wat ook as die kaptein aangewys is, die vleuel en spoedvraat Justin Bhana asook die ratse senter, Ashley Lindewaal die o.18 Goue Leeus se Akademiese span gehaal.
Daar is dan ook ses Florries wat in die Puk o.19-span ingesluit is. Hulle is Waldo Esterhuizen (haker), Wayne Pearson (slot), Hilroy Baaidjies (agtseman), Ruhann Ferreira (loskakel) – kaptein van die span, Morne Strydom (stut) en Arne Bognich (flank/ agsteman).
Al die spanne is glo op Dinsdag-aand (4 Junie) in die Oos-Rand aangekondig.
Afrigter van Florries se eersterugbyspan, Koos van Vuuren het na die aankondiging van die Cravenweekspanne gesê, “Ons is baie trots op 14 van ons senior spelers wat provinsiale kleure ontvang het. Hulle almal verdien dit en ons wens hulle sterkte toe vir die toekoms”.
“Soos altyd sal ‘n paar spelers ongelukkig voel om nie die ‘Cream of the Crop-span’ – o.18 Goue Leeus Cravenweekspan – te kon haal nie,” het Koos bygevoeg.
“Een van hulle is beslis die beseerde stut, Clinton Theron wie nie oorweeg kon word nie weens ‘n knie besering – sy seisoen is ook heel waarskynlik verby”.
Vanjaar se Cravenweek-toernooi vind plaas in Polokwane (voorheen Pietersburg) in die Peter Mokaba Stadion en skop af op Maandag 8 Julie. Die Goue Leeus o.18-span se eerste kragmeting is eers ‘n dag daarna, op Dinsdag 9 Julie teen die Suid Westelike Distrikte (SWD) Arende.
Wat die o.16 Goue Leeus se Akademiese span aanbetref het TJ Cloete en André Bezuidenhout span gekry.



