Ontdek plaaslike skryfster AJ André
'n Eienaardige gebeurtenis in Knysna beloof om jou vasgenael te hou in Whispering Secrets.
Haar eerste titel, Whispering Secrets, is in Maart hierdie jaar vrygestel en behoort binnekort op die rakke van elke goeie boekwinkel te wees.
Dit wat min inwoners weet, is dat AJ André eintlik plaaslik omgaan as Alet André en ‘n doodgewone Florida inwoner, ma en werknemer is.
Alet het tyd geneem om met die Record te kom gesels aangaande die vrystelling van haar boek en wat haar inspireer.
Alet (48) vertel hoe hul gereeld by haar broer in Belvidere, Knysna, gaan vakansie hou en dat die inspirasie vir ‘n boek haar daar eerstens gevind het.
“My broer het ons byna 11 jaar terug vir die eerste keer Belvidere toe genooi, waar ek en my man die Blou Duiker-roete gaan stap het.
“Van daardie dag af is dit asof iets my aanhits om te skryf.”
Alet verduidelik dat haar eerste boek draai om ‘n ware familie gebeurtenis en in Knysna afspeel.
“Ek het dit nie so beplan nie, maar dit het soortvan ‘n riller uitgedraai.”
Dié gebeurtenis het plaasgevind toe sy nog baie jonk was, in haar ouerhuis in Florida waar sy nou weereens tuisgaan.
Alet is ‘n debiteure klerk van beroep en verduidelik dat boekskryf nie speletjies is nie.
“Ek is nog al die pad ‘n dromer,” vertel Alet, “en moes maar vir ‘n baas gaan werk om my lewe bietjie struktuur te verleen.”
Sy is die ma van twee seuns en hits hul nog al die pad aan om te lees en te skryf. Die finansiering van die boek het tussen haar en haar man moontlik geword.
Dit was vir haar die grootste uitdaging om die manuskrip gepubliseer te kry.
Die soeke na ‘n uitgewer, die redaksie en die druk daarvan was ‘n groot uitdaging, hoewel uiteinde ‘n verligting, vertel Alet. En toe sy nog ‘n drukfout in die eerste uitgawes opmerk, was sy eers paniekerig.
“Wat niemand ooit vir jou sê nie, is dat elke aspek van ‘n boek skryf uitdagend is, en jy is op jou eie.”
Sy glo sy sal weer skryf, maar nie dieselfde resep volg nie.
“Ek is nogal spyt dat ek nie dié verhaal in Afrikaans geskryf het nie, dit is tog my moedertaal.
“Dit klink seker effens pateties om vir 10 jaar lank aan ‘n boek te skryf maar laat ek jou vertel, dit is nooit te laat om te begin nie en elke storie is die moeite werd om te vertel.”
Vir meer inligting of om ‘n eksemplaar te bestel, besoek die Whispering Secrets webtuiste.



